Ons almal kry een of ander tyd, op een of ander manier te doen met die proses van boedelbereddering. Hier volg 7 interessante feite oor boedelbereddering:
- Nie alle boedels word op dieselfde wyse aangemeld en beredder nie
Die proses wat gevolg word om ‘n boedel aan te meld en te beredder hang af van die bate-waarde van die boedel.
Bate-waarde verwys na die totale geskatte of werklike waarde van al die bates in ‘n boedel, soos op datum van dood.
Boedels met ‘n bate-waarde van onder R250 000.00, word in terme van Artikel 18(3) van die Boedelwet beredder, en ons praat dus sommer van 18(3)-boedels. In hierdie geval word ‘n Meestersverteenwoordiger aangestel in plaas van ‘n Eksekuteur, en die Meester is slegs betrokke by die uitreiking van die Magtigingsbrief. Daarna is alles in die hande van die Meestersverteenwoordiger en is dit nie nodig om enige verdere dokumente by die Meester in te dien, of verdere kommunikasie met die Meester te doen nie.
Die tweede tipe boedel, is boedels met ‘n bate-waarde van bo R250 000.00. In hierdie gevalle is die Meester se vereistes by aanmelding effens ligter, maar die Meester is die oorsiener van die hele proses, en moet die Likwidasie & Distribusierekening goedkeur voordat enige uitbetalings of oordragte aan erfgename gemaak mag word. Die bereddering van hierdie tipe boedels is ook baie meer kompleks en gereguleer, en daar is ‘n voorgeskrewe proses wat gevolg moet word en aan voldoen moet word.
2. Dit is nie in alle gevalle nodig om ‘n prokureur of professionele persoon aan te stel om ‘n boedel te beredder nie
In die geval van 18(3)-boedels waar die bate-waarde onder R250 000.00 is, kan die persoon wat aangewys is as eksekuteur in die testament, of andersins die persoon wat genomineer word deur die erfgename, self die boedel beredder, ongeag of daardie persoon ‘n prokureur, rekenmeester, bank instelling of enige ander finansiële kundige is.
Hoewel dit nie ‘n vereiste is nie, is dit in meeste gevalle steeds wenslik om ‘n professionele persoon met die nodige kennis en ervaring te nader vir hulp.
3. Slegs sekere persone mag ‘n boedel, buiten ‘n 18(3)-boedel, beredder
Buiten vir 18(3)-boedels waar hierdie vereiste nie geld nie, mag slegs toegelate prokureurs, makelaars, rekenmeesters, bank instellings en trust maatskappye boedels beredder, en die Meesterskantoor sal die aanmelding van ‘n boedel afkeur sou dit nie deur een van hierdie persone aangemeld word nie.
4. Slegs sekere persone mag aangestel word as eksekuteur sonder om sekuriteit aan die Meester te stel vir die waarde van die bates in die boedel
Die persoon wat aangestel word as eksekuteur moet in alle gevalle, behalwe die volgende uitsonderings aan die Meester ‘n borgakte lewer as sekuriteit vir die waarde van die bates in die boedel:
- Waar ‘n Testateur in sy testament die genomineerde eksekuteur vrystel van hierdie vereiste; en
- Die ouer, gade of kind van ‘n oorlede persoon, ongeag of daar ‘n testament is of nie, ongeag of daardie persoon vrygestel is van sekuriteit in die testament. In gevalle waar ‘n persoon oorlede is sonder om ‘n testament te maak, is dit altyd die voorkeur en beste praktyk om ‘n ouer, kind of gade aan te stel as eksekuteur om die vertraging en koste van die verkryging van ‘n borgakte te voorkom.
5. Wat as ‘n genomineerde eksekuteur nie ‘n prokureur, makelaar, bankinstelling ens. is nie?
Die Testateur wat ‘n testament opstel mag enige meerderjarige, verstandelik normale persoon benoem om op te tree as eksekuteur van sy/haar boedel. Wanneer iemand wat nie ‘n prokureur, makelaar ensovoorts (ek verwys na bogenoemde groep persone) is nie, aangestel word as eksekuteur, kan daardie eksekuteur bloot ‘n agent aanstel wat wel voldoen aan hierdie vereiste. Die eksekuteur sal ‘n Volmag teken wat aan die gekose agent volledige magtiging gee om die boedel te beredder.
6. Erfgename kan onder mekaar besluit op ‘n verdeling van bates anders as wat die testament of die Wet op Intestate Erfreg voorskryf
Sou erfgename onder mekaar ooreenkom op ‘n verdeling van boedel bates wat anders is as wat die testament of Intestate Erfreg voorskryf, kan die erfgename saam met die eksekuteur, ‘n herverdelingsooreenkoms aangaan wat bindend sal wees, sou die Meester die herverdeling van die bates goedkeur.
Belangrik om te onthou is dat elke erfgenaam steeds dieselfde waarde moet ontvang as wat in die testament aan hom/haar toegeken is.
Byvoorbeel: Die testament bepaal dat Koos en Jan hulle pa se boedel in gelyke dele moet erf. Koos wil egter graag die huis hê waarvoor Jan geen nut het nie. Sou hulle die testament se voorskrifte volg, moet die huis op beide se name oorgedra word sodat elkeen 50% besit. Koos en Jan besluit om ‘n herverdelingsooreenkoms aan te gaan in terme waarvan Koos die huis erf, terwyl Jan ‘n kontantbedrag erf wat gelykstaande is aan die waarde van die huis soos op datum van dood.
7. Inkomstebelasting is van toepassing op ‘n oorlede persoon tot op datum van dood, en daarna van toepassing op die boedel as ‘n aparte entiteit
Dit beteken dat ‘n oorlede persoon se persoonlike inkomste belasting afgehandel moet word tot op die datum van sy/haar dood. Sou die boedel na datum van dood en terwyl die administrasie aan die gang is, substansiële inkomste verdien, bo die drempel, uit byvoorbeeld huurinkomste, moet die boedel vir ‘n belastingnommer geregisteer word, en sal die boedel inkomstebelasting opgawes moet indien vir die periode waartydens daar inkomste ontvang is, en tot en met die boedel afgehandel is.
Hoe meer ‘n mens weet, hoe beter kan jy beplan en voorberei. My hoop is dat bogenoemde punte groter kennis bring, wat uiteindelik lei tot beter beplanning en voorbereiding!