mkrugerattorney

WAT GEBEUR AS IEMAND STERF SONDER OM ‘N TESTAMENT TE MAAK?

Trek die familie stamboom nader want familie is alles en familie erf alles!

Ons begin by Pa en Ma.  Soos die gesin groei, kom al die kinders net onder Pa en Ma. Dan raak die kinders ouer, trou en kry hulle eie kinders wie se name in die volgende rytjie ingeskryf word.  Die baie gelukkige kindertjies het nie net ‘n oupa en ouma nie, maar ook ‘n Oupa-grootjie en Ouma-grootjie! 

Tot dusver is die beskrywing hierbo vertikaal:  van Oupa en Ouma-grootjie tot die kleinkinders is daar vier generasies in ‘n tydperk van om en by 100 jaar.

Horisontaal en net onder Pa en Ma, is daar kinders.  Elk van die kinders trou en kry hulle eie kinders.  Ooms en Tannies en niggies en nefies raak meer hoe meer broers en susters aanvanklik onder Pa en Ma was.  En so word die kinders se kinders groot, trou en kry weer hulle eie kinders en kort voor lank is daar vier generasies horisontaal.  Broers en susters na neefs en niggies, na klein-neef en klein-niggies ensovoorts.

Waarom het ons sopas ‘n familiestamboom uitgelê?  Want wanneer iemand doodgaan sonder om ‘n testament te maak tree die Intestate Erfreg in werking.  Dit is ‘n wet wat in 1987 gemaak is, en dit is van toepassing op alle persone wat doodgaan sonder om ‘n testament te maak.  Die Intestate Erfreg bepaal dat persone naaste aan ‘n oorledene, in grade van bloed verwantskap erf. 

Grade van bloedverwantskap
OORLEDENE
Eerste graad
–      Kinders van oorledene  (Erf eerste saam met gade)
–      Pa & Ma  (Erf indien oorledene geen gade of kinders gehad het nie)
Tweede graad
–      Broers en susters  (Indien Pa/Ma sou erf maar oorlede is)
–      Oupa’s en Ouma’s  (Indien Pa/Ma, broers en susters en enige kinders van broers en susters sou erf maar oorlede is, of as
daar geen broers en susters was nie)
Derde graad
–      Ooms en Tannies  (Indien Pa/Ma, broers en susters, enige kinders van broers en susters, oupa’s en ouma’s en oupa-grootjies
en ouma-grootjies sou erf maar oorlede is)
Nefies en Niggies  (Erf in die plek van hulle pa’s en ma’s nadat die stap hierbo bereik is)  

Onthou ook dat alle erflatings in terme van die Intestate Erfreg gebeur by wyse van plaasvervulling.  Dit beteken dat enige persoon wat sou erf, maar voor-oorlede* is, se kinders daardie voor-oorlede persoon se gedeelte sal erf.

*”voor-oorlede” beteken die persoon is oorlede op ‘n datum vroeër as die datum waarop die oorledene met wie se boedel ons te make het, oorlede is.

Kom ons se nou Johan is oorlede sonder om ‘n testament te maak, en ons moet vasstel wie gaan erf uit sy boedel.  Die volgende is ‘n stap vir stap ontleding wat ons sal doen:

STAP 1:  Stel vas of Johan getroud was en of hy enige biologiese en/of aangenome kinders gehad het

Indien Johan getroud was maar geen kinders gehad het nie, sal slegs die gade erf  (Johan se vrou)
Indien Johan nie getroud was nie, geskei was of ‘n weduwee/wewenaar was, sal al Johan se kinders in gelyke dele erf (kinders sluit in biologies en aangenome kinders)
Indien Johan getroud was en kinders gehad het, moet ons die volgende sommetjie maak:
Waarde van netto bates in Rand
gedeel deur  (÷)
die aantal kinders wat Johan gehad het plus (+) die gade (Johan se vrou)
= ꭓ
–        Indien ꭓ R250 000.00 of minder is, erf slegs Johan se vrou
–        Indien ꭓ meer is as R250 000.00, maar nie genoeg is om aan Johan se vrou sowel as elk van sy kinders R250 000.00 of meer te
verdeel nie, erf sy vrou die eerste R250 000.00 en die res word in gelyke dele tussen sy kinders verdeel
–        Indien ꭓ meer is as R250 000.00 en Johan se vrou en elk van sy kinders R250 000.00 of meer sal kry by gelyke verdeling, erf sy
vrou en al sy kinders elk in gelyke dele
Nota’s:
1.         In terme van sommige wetgewing wat geloofsgebruike reguleer, mag meer as twee persone met mekaar in die huwelik tree
(poligame huwelike).  In hierdie gevalle en waar ‘n man doodgaan en meer as een vrou agterlaat, sal al die vrouens in gelyke
dele erf indien daar geen kinders is nie, en indien daar wel kinders is, sal dieselfde
som toegepas word soos hierbo bespreek en elke vrou van die oorledene sal bygetel word.
2.        Die netto waarde van ‘n boedel is die waarde van al die bates soos wat dit was op datum van dood, minus al die laste en
administrasiekoste.  Dit is met ander woorde die waarde wat oorbly om te verdeel tussen die erfgename.

Indien Johan ongetroud was en geen kinders gehad het nie, gaan ons voort met Stap 2

STAP 2: Stel vas of beide Johan se ouers nog leef

Indien Johan ongetroud was, geskei was of ‘n weduwee/ wewenaar was, en hy geen kinders gehad het nie, sal sy ouers in gelyke dele erf (50% pa en 50% ma)

Indien een van Johan ouers voor-oorlede is, sal daardie voor-oorlede ouer se helfde (50%) in gelyke dele na sy/haar kinders vererf (m.a.w, dit sal gaan na Johan se broers en susters, by wyse van plaasvervulling indien een van sy broers of susters voor-oorlede is)

Indien beide Johan se ouers voor-oorlede is, sal elke voor-oorlede ouer se helfde (50%) in gelyke dele na daardie ouer se kinders veref (m.a.w, Johan se broers en susters, stief-broers en stief-susters sal die voor-oorlede ouers se gedeeltes in gelyke dele erf, en by wyse van plaasvervulling)

STAP 3:

Indien daar op hierdie stadium steeds geen erfgename geidentifiseer kon word nie, sal die naaste bloedverwante in grade van verwantskap, erf.  

STAP 4:

Indien geen bloedverwante van ‘n oorledene bestaan ten tye van sy/haar dood nie, sal al die bates te gelde gemaak word en in die Voogdyfonds inbetaal word.  Na 30 jaar indien die gelde nie opgeëis is nie, sal dit aan die Staat vererf.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *