mkrugerattorney

HOE OM DIE EKSEKUTEUR VAN JOU BOEDEL TE KIES

Ons almal ken die fliek-voorstelling van die lang, donker, ernstige prokureur in wie se kantoor die familie van die oorledene bymekaarkom om te hoor wat elk se erfenis is.  Almal is in swart geklee en tjoepstil, bang vir die intimederende man wat duidelik geen lighartigheid duld nie.

Die goeie nuus is dat hierdie prentjie gladnie ‘n weerspieëling is van die werklikheid nie. 

Elke testateur/testatriese het die vryheid om self ‘n persoon of persone aan te wys om op te tree as eksekuteur by sy/haar dood. 

Net soos ‘n mens mooi dink oor wie jou finansiele sake moet behartig, so moet jy mooi dink oor wie om aan te stel as die eksekuteur van jou boedel – beide hierdie keuses het verrykende gevolge.

In hierdie artikel gaan ons die volgende vrae beantwoord:

  1. Wat is ‘n eksekuteur se doel
  2. Wie mag aangestel word as eksekuteur en wie mag ‘n boedel beredder
  3. Hoe word ‘n eksekuteur aangewys wanneer ‘n persoon sterf sonder om ‘n testament te maak waarin ‘n eksekuteur aangewys is

MY WENS IS DAT JY TEEN DIE EINDE VAN HIERDIE ARTIKEL DIE BELANGRIKHEID VAN DIE KEUSE VAN EKSEKUTEUR SAL BEGRYP EN IN PRAKTYK DIE REGTE KEUSE MAAK WAT TOT VOORDEEL VAN JOU ERFGENAME SAL WEES

Wat is ‘n eksekuteur se doel

‘n Boedel bestaan uit bates en laste.  Gedurende ‘n persoon se leeftyd is daardie persoon die enigste een wat die absolute reg het en onder verpligting staan ten opsigte van al sy/haar bates en laste.  Wanneer daardie persoon sterf neem die eksekuteur alle regte en verpligtinge van die oorledene oor, en is dus die enigste persoon wat met daardie bates en laste mag (en kan) handel.

Die doel van ‘n eksekuteur is dus om beheer te neem van alle bates en laste van die oorledene, en aan die hand van die relevante wetgewing, uitvoering te gee aan die wense van ‘n oorledene soos wat die testament bepaal, of om die boedel van ‘n oorledene te verdeel volgens die Intestate Erfreg indien daar geen testament nagelaat is nie. 

Wie mag aangestel word as eksekuteur en wie mag ‘n boedel beredder

Enige persoon wat aan die volgende kriteria voldoen mag aangewys en aangestel word as eksekuteur:

  • Meerderjarige persone (bo die ouderdom van 18 jaar)
  • Wat handelingsbevoeg is (met ander woorde, nie verstandelik gestrem is nie)
  • Insluitend instansies (byvoorbeeld banke.  In hierdie geval sal die Raad van Direkteure by wyse van ‘n resolusie ‘n persoon nomineer wat namens die instansie aangestel sal word as eksekuteur.  Indien die instansie wat benoem is ‘n vennootskap is, sal al die vennote van daardie vennootskap aangestel word as eksekuteurs)
LET WEL:  Geen persoon wat in ‘n testament benoem is as erfgenaam of as eksekuteur mag die testament onderteken as getuie nie.  ‘n Persoon mag beide ‘n erfgenaam en eksekuteur wees.‘n Persoon wat insolvent verklaar is mag aangestel word as eksekuteur, maar dan mag die Meester vereis dat daardie persoon wel sekuriteit moet stel vir die waarde van die bates in die boedel, ongeag of daardie persoon in die testament vrygestel is van hierdie verpligting.‘n Persoon wat aangekla en skuldig bevind was aan finansiële bedrog word nie beskou as ‘n “fit and proper” persoon nie, en mag nie aangestel word as eksekuteur nie.

Hoewel enige persoon (soos hierbo bespreek) aangestel kan word as eksekuteur van ‘n boedel, mag slegs prokureurs, rekenmeesters, makelaars, bank instellings en trust maatskappye toesien tot die bereddering van ‘n boedel met ‘n waarde hoër as die waarde wat die Minister van tyd tot tyd mag aankondig.  Tans is die waarde vasgestel op R250 000.00.

Dit beteken dat ‘n persoon wat benoem is as eksekuteur van ‘n boedel en nie val onder die lys van persone en instansies wat boedels mag beredder soos hierbo genoem nie, ‘n agent sal aanstel uit die groep gemagtigde persone soos hierbo genoem, wat namens hom/haar sal toesien tot die bereddering van die boedel.  Die eksekuteur sal ‘n volmag teken wat aan die agent al die regte en verpligtinge verleen om namens die eksekuteur op te tree, maar sou die eksekuteur nie tevrede wees met die diens van die agent nie, kan die eksekuteur op enige stadium daardie agent se mandaat beëindig en ‘n alternatiewe agent aanstel.

Hoe word ‘n eksekuteur aangewys wanneer ‘n persoon sterf sonder om ‘n testament te maak waarin ‘n eksekuteur benoem is

In hierdie geval moet alle erfgename ooreenstem op een of meer persone wat sal optree as eksekuteur.  Skriftelike nominasies deur alle erfgename moet geteken word as bewys hiervan. Slegs ‘n gade, kind of ouer van ‘n oorledene kan aangestel word as eksekuteur sonder die verpligting om sekuriteit* aan die Meester te stel vir die waarde van die bates in die boedel.

*Sekuriteit
Daar is ‘n verpligting in terme van die Boedelwet op alle persone wat aangestel word as eksekuteur in ‘n oorlede persoon se boedel, om sekuriteit te stel aan die Meester van die Hof vir die waarde van die bates in die boedel, met die volgende twee uitsonderings:
1.  Indien dit spesifiek in die testament gemeld is dat die eksekuteur vrygestel word van die verpligting om sekuriteit te stel
2.  Indien ‘n gade, kind of ouer van ‘n oorledene aangestel word as eksekuteur
 
Die sekuriteit wat gestel word is in essensie versekering teen bedrog deur ‘n eksekuteur wat beheer neem oor bates van ‘n oorledene in terme van sy/haar eksekuteurskap.

Belangrike oorwegings

  • Aangesien die eksekuteur geen verpligting teenoor erfgename het nie, is daar geen wetlike vereiste vir ‘n eksekuteur om erfgename op hoogte van sake te hou nie, en hoef ‘n eksekuteur slegs met erfgename te kommunikeer indien dit wesenlik is in die uitvoering van sy/haar take
  • Nalatigheid aan die kant van ‘n eksekuteur is nie genoegsame gronde om daardie eksekuteur uit sy/haar posisie te verwyder nie.  Erfgename sal wel ‘n skadevergoedingseis kan instel as die nalatigheid van die eksekuteur werklike skade veroorsaak het.  Let wel, dat sodanige skadevergoedingseis by wyse van ‘n litigasie proses deur die hof van die eksekuteur verhaal moet word
  • Die eksekuteur neem alle bates van ‘n oorledene onder sy/haar beheer: 
  • ‘n Eksekuteur kan nooit meer regte hê ten opsigte van ‘n bate, as wat die oorledene self gehad het nie
  • Wanneer persone binne gemeenskap van goed getroud is, neem die eksekuteur beheer oor die totale gesamentlike boedel

Hoe om jou eksekuteur te kies

My advies sal altyd wees om ‘n vertroue vriend of familielid aan te wys as eksekuteur, en wel om die volgende redes:

  1. ‘n Persoon wat die testateur/testatriese en/of ook die erfgename intiem ken, voel ‘n emosionele verpligting en het die begeerte om die testateur/testatriese se wense te vervul, asook om die erfgename te beskerm
  2. Die feit dat jou eksekuteur jou familie-opset en lewensomstandighede ken, kan tot groot voordeel wees wanneer besluite geneem moet word
  3. Jou eksekuteur het dan beheer oor wie aangestel moet word om die boedel te beredder, en kan dus rond “shop” vir ‘n prokureur/rekenmeester/makelaar/bank instelling/trust maatskappy wat ‘n goeie reputasie het.  Jou eksekuteur kan dus ook enige agent wat nie goeie diens lewer nie, se mandaat beëindig en sodoende verseker dat die boedel op ‘n spoedige, effektiewe wyse afgehandel word

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *