Om elke hoek en draai word mens deesdae aangemaan om so gou as moontlik ‘n testament te laat opstel om te verseker dat jou bates, waarvoor jy hard gewerk het gedurende jou leeftyd, nie in verkeerde hande beland nie. Maar wat is werklik die rede waarom dit belangrik is om ‘n testament op te stel, en wanneer is dit noodsaaklik?
Kom ons kyk eers na ‘n paar tegniese aspekte:
- Enige persoon bo die ouderdom van 16 jaar, en met uitsluiting van verstandelik gestremde persone, mag ‘n testament opstel.
- “Testateur” en “Testatriese” is die benamings vir manlike en vroulike persone wat ‘n testament opstel en onderteken.
- ‘n Testament gee aan ‘n testateur/testatriese die vryheid om self te besluit oor wat met sy/haar besittings moet gebeur by sy/haar dood, wie die eksekuteur moet wees wat sal toesien tot die bereddering van die boedel, en indien ‘n testamentêre trust opgerig word kan die testateur/testatriese besluit wie die trustees moet wees, en hoe die trust geadministreer moet word.
(Enige persoon wat doodgaan sonder om ‘n geldige testament agter te laat se boedel word verdeel in terme van die Intestate Erfreg. Kyk uit vir ‘n volgende artikel vir meer inligting )
So, waarom is dit belangrik om ‘n testament te hê?
Ingesluit by hierdie vraag, is die baie belangrike punt dat wanneer jy besluit om ‘n testament te laat opstel, jy self mooi moet verstaan wat in jou testament staan – wat die implikasie is van elke bepaling daarvan, asook verstaan hoe jou boedel beredder sal word aan die hand van die bepalings in jou testament. Jou bedoeling as testateur/testatriese is baie belangrik, en dit is uiters noodsaaklik dat die persoon wat jou testament opstel aan jou verduidelik hoe jou bedoeling verwesenlik gaan word. Waarom is dit so belangrik? Omdat dit soms onmoontlik is om uitvoering te gee aan ‘n bedoeling, of omdat dit later onmoontlik kan word om uitvoering te gee aan ‘n bedoeling en jou testament dus van die begin af anders bewoord moes word. Dit gebeur ook soms dat dubbelsinnige bewoording gebruik word, en die werklike bedoeling van die testateur/testatriese nie duidelik is nie.
OM ‘N TESTAMENT TE LAAT OPSTEL EN DIE BEPALINGS DAARIN TE VERSTAAN, BRING ENORME GEMOEDSRUS. SOOS MET ENIGE ONBEKENDE SITUASIE, VIR SOLANK AS WAT JY GEEN KENNIS HET, EN GEEN BEHEER GENEEM HET DAAROOR NIE, BLY DIT DUISTER, INTIMIDEREND EN VEROORSAAK SPANNING.
Dit is ook belangrik om te dink aan die rede waarom jy jou testament wil laat opstel. Wees versigtig vir persone en/of instansies wat jou wil oortuig om ‘n testament te laat opstel in ruil daarvoor dat jy daardie persone en/of instansies benoem as eksekuteur. (Kyk uit vir ‘n volgende artikel met meer inligting oor hoe om ‘n eksekuteur te kies).
Vra vir jouself die volgende vrae om seker te maak wat jou intensie is:
- Wie wil ek hê moet bevoordeel word en in watter mate? Wil ek spesifieke bates aan spesifieke persone nalaat, of wil ek slegs hê dat daar ‘n gelyke verdeling na elk van my erfgename moet gaan, of ‘n kombinasie hiervan?
In meeste gevalle is dit voldoende om erfgename in gelyke verdeling te benoem (met ander woorde, al my erfgename erf in gelyke dele en sal dus presies dieselfde waarde ontvang), of andersins benoeming van erfgename in persentasies, byvoorbeeld, “ek bemaak my boedel as volg: 15% na my ma; 15% na my pa; 20% na my suster; 50% na my broer”. Beide hierdie verdelings het tot gevolg dat dit nie nodig is om jou testament te wysig elke keer wanneer daar ‘n verandering van jou bates was nie en dit gee aan jou erfgename die vryheid om onder mekaar te besluit sou ‘n spesifieke erfgenaam ‘n spesifieke bate wou bekom.
- Regverdig die waarde van my boedel* en die bates in my boedel, die hoeveelheid erfgename wat ek wil benoem?
Ek dink hier onder andere aan ons Oupas en Oumas wat graag ietsie vir al die kinders en ook al die kleinkinders wil nalaat, en soms ook nog vir die agter-kleinkinders. Die gevolg is dat elke erfgenaam ‘n erfenissie kry wat van onbenullige waarde is. Hierdie tipe verdeling kan ook geweldig onmin tussen erfgename veroorsaak. In meeste gevalle trek kleinkinders en agterkleinkinders tog uiteindelik voordeel uit hulle eie ouers se boedels en word op hierdie manier oor geslagte heen bevoordeel.
- Is daar ‘n moontlikheid dat my erfgename minderjarig gaan wees, en indien wel, sal die erflatings van so ‘n aard wees dat dit die oprigting en administrasie (insluitend koste) van ‘n testamentêre trust sal regverdig?
Hou ook in gedagte wie die minderjarige erfgenaam se voog is. Is die voog ‘n verantwoordelike en betroubare persoon wat die minderjarige kind se erfenis sal bewaar?
- Wat sien ek as ‘n regverdige verdeling van my boedel?
Om jouself in die skoene te plaas van jou erfgename, kan jou dalk tot ander insigte bring wanneer jy oor die verdeling van jou boedel moet besluit. Hoewel ‘n erfenis veronderstel is om eerder ‘n voorreg as ‘n reg te wees, kan ‘n skynbare onregverdige verdeling tot groot konflik in ‘n familie lei, en moet elke testateur/testatriese tog oorweging gee hieraan.
| *waarde van my boedel Jy kan op enige stadium die berekening maak om vas te stel wat die waarde van jou boedel is, deur die volgende som te doen: Geskatte waarde van al jou bates – (minus) Geskatte waarde van al jou laste (alle skuld en/of afbetalingskontrakte) – (minus) Administrasiekoste (hierdie bedrag sal wissel afhangend van die hoeveelheid en tipe bates wat jy besit, maar ‘n veilige skatting sal nie minder nie as R50 000.00 wees) = (is gelyk aan) TOTAAL (Waarde van jou boedel beskikbaar vir verdeling tussen jou erfgename) |
Wanneer is dit dan noodsaaklik om ‘n testament te hê?
Sommige situasies is van so ‘n aard dat geweldige komplikasies tot gevolg sal kom wanneer ‘n persoon doodgaan sonder om ‘n geldige testament agter te laat. ‘n Voorbeeld hiervan is waar ‘n persoon oorlede is en ‘n gade sowel as minderjarige kinders agterlaat, sonder ‘n testament wat die verdeling van die boedel reël. Omdat minderjarige kinders nie ‘n opsie kan uitoefen om hulle erfenis te repudieer* nie, moet die gade saam met die kinders erf. Dit is veral problematies wanneer daar onroerende eiendom (huise/grond) is, wat dan op die gade sowel as al die kinders se name oorgedra moet word.
Verder moet in ag geneem word dat minderjarige erfgename wat in terme van die Intestate Erfreg erf, se erfenisse na die Voogdyfonds* oorbetaal word, waar dit in bewaring gehou word totdat die erfgenaam die ouderdom van 18 jaar bereik. Die wettige voog van sodanige minderjarige kan wel aansoek doen vir uitbetalings vir die versorging van die minderjarige.
| *repudieer Enige persoon wat handelingsbevoeg is en ‘n erfgenaam in ‘n ander se boedel is, het die keuse om die erfenis te repudieer, met ander woorde afstand te doen van sy/haar erfenis en dus gladnie erf uit die boedel van die oorledene nie. Die boedel sal dan beredder word asof die erfgenaam wat sy/haar erfenis gerepudieer het oorlede is voor die oorledene met wie se boedel ons te doen het. *voogdyfonds Die Voogdyfonds is ‘n regeringsinstansie wat opgerig is spesifiek om fondse namens en ten behoewe van minderjarige en/of verstandelik gestremde persone te bestuur. Die Voogdyfonds het tans ses kantore landwyd. Die kantore is by die volgende Meesterskantore: Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein, Kimberley, Pietermaritzburg en Grahamstad. |
Hoe moet ‘n mens dan weet of dit noodsaaklik is om ‘n testament te laat opstel? Die volgende logiese denkproses sal vir jou die antwoord gee.
STAP 1: Begin deur die waarde van jou boedel en jou bates te ontleed.
- Wat is die waarde van bates en wat is die waarde van my laste?
- Watse tipe bates besit ek? (kontant / aandele / onroerende eiendom / aandeelhouding in maatskappye ens.)
- Is my bates gekompliseerd? (Byvoorbeeld, is daar ‘n besigheid wat na my afsterwe deur spesifieke persone bedryf moet word?)
STAP 2: Volgende moet jy dink aan jou familie-opset.
- Is ek getroud en het ek minderjarige kinders?
- Wie in my familie wil ek hê moet my bates erf?
- Is daar persone buite my familie wat ek wil bevoordeel uit my boedel?
- Is my familie situasie gekompliseerd? (Byvoorbeeld, ek is in ‘n tweede huwelik waar ek my eie kinders sowel as my gade se kinders uit ‘n vorige huwelik in ag moet neem)
STAP 3: Bestudeer die verdeling volgens die Intestate Erfreg
- Indien ek sou doodgaan sonder om ‘n testament te maak, erf die persone wat ek graag wil hê moet erf?
- Indien ek sou doodgaan sonder om ‘n testament te maak, hoe gekompliseerd sal die situasie wees vir my erfgename en familie wat ek agterlaat, in ag genome die waarde van my boedel sowel as die tipe bates waaroor ek beskik?
STAP 4: Hoe belangrik is dit om self te besluit oor my eksekuteur
- Hoe goed kom my familielede oor die weg met mekaar, en is dit nodig vir my om ‘n spesifieke persoon aan te wys wat sal optree as my eksekuteur?
- Kyk uit vir ‘n volgende artikel wat sal handel oor die keuse en aanstelling van ‘n eksekuteur
Nou dat jy ‘n besluit kan neem oor die belangrikheid van ‘n testament vir jou, is die volgende twee vrae of dit nodig is dat ‘n professionele persoon jou testament opstel, en tweedens, wie ‘n geskikte persoon sou wees om jou testament op te stel.
‘n Testament is ‘n gespesialiseerde dokument en moet voldoen aan sekere vorm vereistes wat deur die Wet op Testamente daargestel word. Buiten hiervoor is dit my oortuiging dat die belangrikheid van ‘n testament dit noodsaak om baie kieskeurig te wees oor die persoon wat jou testament opstel – is dit iemand met die nodige kennis? Kan die persoon vir jou verduidelik wat elke bepaling beteken? Kry jy onpartydige en in diepte advies en leiding?
Verder is dit baie belangrik om, wanneer jy aan jou prokureur, makelaar of bank opdrag gee om jou testament op te stel, seker te maak dat jy baie duidelik kommunikeer ten opsigte van jou bedoeling sodat daar geen misverstand kan wees nie. Maak ook seker dat die bewoording van jou testament op geen manier dubbelsinnig is nie.
Wees bereid om te betaal vir ‘n goeie testament. Die geld wat dit jou nou kos is min in vergelyking met die frustrasie, hartseer en pyn wat jou geliefdes sal moet verduur indien jou testament van swak gehalte is.