mkrugerattorney

WAAR BEGIN ‘N MENS OM JOU SAKE IN ORDE TE KRY, MET JOU AFSTERWE IN GEDAGTE?

Min dinge in die lewe is seker, maar een ding is wel – nie een van ons gaan vir ewig lewe nie.  En meer nog, nie een van ons weet hoeveel tyd ons oor het nie, daar mag dalk ‘n lang lewe voor jou lê, of aan die ander kant, wag die dood dalk om die draai.  Die gedagte hieraan kan skrikwekkend en oorweldigend voel, en mens voel of jy net jou kop in die sand wil druk en daarvan vergeet so gou as wat die waarheid hiervan ingesink het.  Maar om braaf te wees, die waarheid in die oë te kyk, en die beplanning aan te pak, het die teenoorgestelde uitwerking!  Dit bring kalmte en gemoedsrus, en skielik is die donker, bang gevoel weg. 

So nou dat die eerste groot hekkie oorkom is, is die volgende vraag, waar om te begin.

Testament

Hoewel ons in Suid-Afrika baie goeie wetgewing het wat die verdeling van ‘n boedel reël wanneer ‘n persoon sterf sonder om ‘n testament te maak, is dit wenslik om te sorg dat jy ‘n geldige testament het.  Saam met ‘n goed-opgestelde, verstaanbare testament kom rustigheid van gees.  Jy weet onder andere wie sal optree as jou eksekuteur, jy weet hoe jou bates verdeel sal word, en jy weet dat enige minderjarige erfgename versorg sal word.  Verder het ‘n testateur die vryheid om enige spesiale wense in sy/haar testament neer te lê, tensy sodanige wense ongrondwetlik of teen goeie morele waardes indruis. 

Die opstel van ‘n testament sal jou ook noodgedwonge laat dink oor jou lewe, wát jy agterlaat, en aan wie jy jou bates wil agterlaat.  Dit is ‘n baie goeie oefening om “voorraadopname” van jou lewe te doen, en seker te maak dat jy op die koers is waarop jy kies om te wees.

Lewende Testament, begrafniswense en ander direktiewe en/of volmagte

Met die vooruitgang in mediese tegnologie, asook meer groen opsies as dit kom by soorte begrafnisse, is dit wys om te dink oor jou persoonlike voorkeure.  Deur middel van ‘n Lewende Testament kan jy tot ‘n mate verseker dat jou lewenskwaliteit in ag geneem sal word in drastiese mediese besluite, jy kan ook hierin aan spesifieke persone magtiging gee om namens jou besluite te neem in lyn met jou wense, sou jyself nie in staat wees hiertoe nie.  Hoewel die wetlike afdwingbaarheid van Lewende Testamente nog geensins verseker is nie, sal dit van groot hulp wees wanneer hierdie tipe besluite geneem moet word.

Enige ander wense kan ook neergepen word as riglyn vir jou geliefdes en om jou wense en voorkeure bekend te maak.  Hoewel sulke wense nie wetlik afdwingbaar is nie, kan jy waarskynlik vertrou dat jou geliefdes uitvoering sou wou gee aan jou wense.

‘n Goue reël onder hierdie afdeling, is om seker te maak dat jy baie duidelik is, en daar geen dubbelsinnigheid bestaan in enige van hierdie dokumente nie.  Vra jou prokureur om jou by te staan met die opstel hiervan – iemand met professionele kennis, en ‘n objektiewe insig in jou wense, kyk met ander oë en sal waarskynlik toesien dat alles duidelik en verstaanbaar is, asook voldoen aan enige wetlike vereistes.

Begrafnisdekking

Soos met alles anders, styg begrafniskostes, en is dit belangrik om op hoogte te bly hiervan.  ‘n Begrafnispolis is baie behulpsaam omdat dit ‘n uitgawe gedurende jou lewe is, wat klein genoeg is sodat jy amper daarvan kan vergeet, terwyl dit soos manna uit die Hemel is die dag wanneer dit uitbetaal.  Dood kom oor die algemeen skielik en onverwags en kan ‘n groot onbeplande uitgawe veroorsaak wat onnodige druk op alreeds onstelde geliefdes plaas.  

Hersien jou begrafnispolis of ander voorsiening jaarliks, en maak seker dat die waarde van jou polis tred hou met huidige skattings.  Dink ook oor die tipe begrafnis wat jy verkies en moontlike ekstra of verhoogte uitgawes wat daarmee gepaard gaan.  Maak seker dat jou dood nie jou geliefdes in die skuld sal dompel nie.

Hersien jou finansies

Die twee hoof gedagtes om te oorweeg is eerstens, dat alle skuld afgelos sal word by jou dood en tweedens dat jou familie en/of afhanklikes finansieel veilig sal wees.

Beplan nou reeds jou finansies só om die minimum skuld aan te gaan, en in gevalle waar dit onvermydelik is, maak seker dat jy kredietlewensversekering uitneem om alle skulde te dek.  Wanneer ‘n mens aan skuld dink, is jy geneig om na die groot items te kyk:  huisverband, motorfinansiering ens., maar jy moet in gedagte hou dat boedelbereddering ‘n duur proses is, en dat dood allerlei uitgawes meebring.  Dit is baie keer die klein jakkalsies – daardie klein skuld byvoorbeeld die Edgars of Makro rekening, (en veral as daar baie van hierdie is) – wat die groot tekorte en spanning veroorsaak.  Sorg dat daar genoeg kontant is om alle skulde af te los, of in die alternatief, sorg dat daar kredietlewensversekering uitgeneem word op alle skulde wat aangegaan word.

Dink oor jou familie-opset.  Die ouderdomme van jou kinders, of jou ouers finansieel van jou afhanklik is, ens.  Wanneer jy enige ingrypende finansiële besluite maak, hou hierdie feite in gedagte, en dink altyd wat die uiteinde sal wees sou jy oor ‘n week te sterwe kom.  Lewe binne jou vermoë, juis omdat nie een van ons weet wat môre gaan gebeur nie. 

Dit beteken nie dat ‘n mens gladnie risiko’s moet neem nie, maar wanneer jy risiko’s neem, maak seker dat sou die slegste uitkoms bereik word, jou familie en afhanklikes nie finansieel vernietig sal wees nie. 

Lewensdekking en ander versekering

Hoewel ek van mening is dat ‘n mens baie versigtig moet wees vir allerhande onnodige versekering wat jou baie kos aan premies en uiteindelik nie uitbetaal nie of onder-waarde uitbetaal, glo ek dat ‘n weldeurdagte lewenspolis ‘n wonderlike geskenk is om aan jou erfgename te gee, en in baie gevalle ‘n absolute uitkoms is wat finansiële ondergang voorkom.  My advies is om baie mooi en volledig ondersoek in te stel hieroor om te verseker dat jy die beste besluit neem vir jou geliefdes. 

Lewenslêer

Laastens is dit baie belangrik om al jou inligting op een, maklik toeganklike plek te bêre, en seker te maak dat veral jou eksekuteur toegang daartoe sal hê.  Ek vind dat ‘n lewenslêer wonderlik werk vir hierdie doeleindes.  En die bonus is dat dit nie net voordelig is vir ná jou afsterwe nie, maar dit sal ook jou eie lewe meer georden en agtermekaar laat voel omdat jy nooit hoef te soek na inligting nie.

Onthou, jy is nooit alleen op hierdie paadjie nie.  Inligting en advies is maklik bekombaar, en hoewel ‘n mens soms moet sif vir die beste raad, sal selfs net om te begin met die proses alreeds jou skouers ligter maak en die angel uit die dood haal.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *